Geagte leser,
Die nuusbrief van die boer van Senekal, De Villiers, het my diep getref en my hart seer gemaak. Ek voel genoodsaak om vanuit ’n Bybelse perspektief hierna te kyk, want ek glo dat ons as Christene ons lewe en ons woorde aan God se Woord moet toets.
In hierdie saak is daar, na my beskeie oordeel, ten minste drie van God se gebooie oortree:
Eerstens word die Naam van die Here tevergeefs gebruik. De Villiers verklaar in sy brief aan Maroela Media dat hy dankbaar is aan die Skepper. Wanneer ’n mens God se Naam aanroep terwyl jy terselfdertyd bedrog of onreg pleeg, misbruik jy sy heilige Naam. Dit is ’n ernstige saak in die oë van die Here (Eksodus 20:7).
Tweedens word daar duidelik teen die bevel “Jy mag nie steel nie” oortree, asook teen die breër beginsel van bedrog en oneerlikheid. Die Bybel is baie duidelik hieroor:
“Jy mag nie steel nie. Jy mag nie lieg nie. Jy mag nie bedrieglik handel met jou naaste nie.” (Levitikus 19:11)
Derdens is daar vals getuienis gelewer in die artikel wat in Maroela Media verskyn het. Dit doen afbreuk aan die goeie naam en eer van ’n naaste, wat direk indruis teen die negende gebod: “Jy mag nie vals getuienis teen jou naaste aflê nie” (Eksodus 20:16).
Ek is self geensins ’n volmaakte Christen nie. Inteendeel, ek sukkel daagliks om my eie saak met God reg te kry. Dit is juis daarom dat hierdie misbruik van die Here se Naam my so hard tref. Hoe kan ek verwag dat die Here my sal seën as ek nie sy wil doen nie? Hoe kan ek met ’n skoon gewete voor Hom staan terwyl ek self nog sukkel om volkome gehoorsaam te wees?
Die hele gebeurtenis in Senekal herinner my sterk aan my eie stryd met die Here. Aan die een kant sien ons vir Kobus, wat onder sulke geweldige druk was dat hy nie selfbeheersing kon uitoefen nie – een van die vrugte van die Heilige Gees (Galasiërs 5:22-23). Aan die ander kant sien ons De Villiers wat deur opportunisme en bedrog probeer voordeel trek, baie soos Saggeus, die tollenaar in Jesus se tyd.
Saggeus was ’n bedrieër en ’n dief in diens van die Romeinse belastingstelsel. Tog het Jesus hom raakgesien, by sy huis ingegaan en hom met liefde en waarheid gekonfronteer. Die gevolg was ware bekering: Saggeus het belowe om die helfte van sy goed aan die armes te gee en vierdubbel terug te betaal aan dié wat hy verkul het. Nie net hy nie, maar sy hele huisgesin het tot bekering gekom (Lukas 19:1-10).
Dit is presies wat ek bid moet gebeur met De Villiers, met Kobus, en ook met myself. Mag albei mans tot opregte bekering kom. Mag hulle die Here se vergifnis ontvang en hul lewe radikaal verander. En mag ek self ook dieper in die Here se wil ingaan.
Ek skryf hierdie brief omdat ek ’n kommerwekkende tendens onder ons eie Afrikaner-volk sien. Aan die een kant is daar mense wat werklik eerlik en betroubaar wil besigheid doen. Aan die ander kant is daar opportuniste wat ander bedrieg, besteel en misbruik vir eie gewin. Ek was self al in so ’n situasie waar iemand my derduisende rande skuld en ek dit uiteindelik moes afskryf, omdat hofsake my net meer sou uitmergel en geld sou kos. Ek het dit in die Here se hande oorgegee.
Dit was ook nie die eerste keer dat daardie persoon ander mense ingedoen het nie. Daarom pleit ek by ons almal: Kom ons kyk baie deeglik na wie ons om ons het. Kom ons ondersoek die “track record” van mense voordat ons in besigheid of vennootskappe ingaan. Eerlikheid, integriteit en ’n goeie naam is van onskatbare waarde in die oë van God en van mense.
Mag die Here ons almal tot ware, innerlike bekering lei. Ons as Suid-Afrikaners, en veral ons as Afrikaners, stuur op ’n ramp af as ons nie radikaal terugdraai na die Here toe nie. Mag Hy ons genadig wees.
Met ernstige kommer en gebed,
Die Redaktrise
Comments (0)
Leave a Comment